Talentvolle Wiskunde-leerlinge kry “hupstoot” met skenking

Algebra, trigonometrie en meetkunde klink vir die meeste mense behoorlik na Grieks, maar danksy ’n skenking deur Solidariteit Helpende Hand aan 19 Rustenburgse hoërskoolleerlinge sal selfs die taaiste wiskundeprobleme nou kafgedraf kan word.

Volgens Hugo Vermeulen, hoof van Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum, glo Helpende Hand dat jongmense wat gehalte-onderrig in die algemeen – en spesifiek ook gehalte-Wiskundeonderrig – ontvang, ’n reusevoorsprong in die lewe het. Juis daarom pak dié organisasie, deur middel van sy Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW), projekte aan wat die gehalte van Wiskunde-onderrig help verbeter.

“As deel van dié fokus het Helpende Hand Maandag 19 tabletrekenaars, waarop die Hupstoot-app gelaai is, aan talentvolle wiskunde-leerders oorhandig. Die Hupstoot-app is onlangs deur Helpende Hand ontwikkel. Dit is as’t ware ’n moderne handboek waarin die volledige Wiskunde-sillabus vir graad 11 en 12 deur middel van hoëgehalte videolesings behandel word. Dié app is boonop in Afrikaans beskikbaar,” verduidelik Vermeulen. Dié app is tans vir Apple-gebruikers beskikbaar.

Die skenking is Maandag aan die leerlinge van Hoërskool Rustenburg en die Bergsig Akademie oorhandig.

Die oorhandiging het plaasgevind tydens die VAW se kongres vir Wiskunde-onderwysers wat van Maandag tot Woensdag by die ATKV se Buffelspoort-oord aangebied is. Helpende Hand het terselfdertyd ook ’n kongres vir die nuutgestigte Genootskap van Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT) aangebied. Hierdie nuwe beroepsorganisasie sal ondersteuning bied aan onderwysers wat die vak Afrikaans aanbied. Nagenoeg 200 onderwysers het hierdie kongresse bygewoon.