Suid-Afrika se grootste Afrikaanse Onderwyskongresse bied wêreldklas professionele ontwikkeling

Solidariteit Helpende Hand Skoleondersteuningsentrum (SOS) se kongres vir Wiskunde en Afrikaanse Huistaal-onderwysers bring kenners van regoor die wêreld

Die Solidariteit Helpende Hand Skoleondersteuningsentrum (SOS) bied tydens die Julie-skoolvakansie sy vyfde jaarlikse driedagkongresse in Noordwes en die Wes-Kaap aan. Alhoewel ’n groot deel van die kongresse op wiskunde en Afrikaans Huistaal fokus, bied vanjaar se kongresse ook ’n volledige program vir onderwysers van ander vakke en van alle grade.

Die Noordwes-kongres vind vanaf 27 – 29 Junie by die ATKV Buffelspoort-vakansieoord plaas en die Wes-Kaapse kongres vind vanaf 4 – 6 Julie by die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool in Bellville plaas.

“Die SOS-kongresse fokus op die professionele ontwikkeling van onderwysers,” sê Ruan Kapp, VAW-onderwysspesialis. “Dit behels, onder andere, tegnologie, leierskap, dissipline, opvoedkundige programmatuur, pedagogiek en metodiek, asook vakinhoud vir wiskunde en Afrikaans Huistaal.”

“Meer as 80 sessies word oor die drie dae aangebied vir Wiskunde (hoër- en laerskool), Afrikaans Huistaal (hoër- en laerskool) asook sessies oor tegnologie in die klaskamer, leierskap en dissipline,”sê Hannie Boshoff, GeRAT-onderwysspesialis. “Ons nooi jou uit om die kongres by te woon. Hier maak ons jou gerat, gereed en toegerus.”

Kundiges soos mnr. Mo Hendon, ʼn wiskundedosent aan die Universiteit van Georgia in Athens, VSA, prof. Gerrit Stols en dr. Danie Brink sal die wiskunde-onderwysers toespreek. Prof. Hans du Plessis en dr. Estelle Kruger sal onderskeidelik by Buffelspoort en Bellville die sprekers tydens die sessies oor taalonderwys vir Afrikaans Huistaal wees.

Ander welbekende sprekers sluit in prof. Irma Eloff van die Universiteit van Pretoria, dr. Jeanette de Klerk-Luttig van die Universiteit Stellenbosch, Louis van der Watt van Atterbury Properties, dr. Theuns Eloff van die FW de Klerk-stigting en Waldimar Pelser, die redakteur van Rapport.

Die koste vir die kongres beloop R1 100 per lid en R1 300 vir nie-lede. Dit sluit middagete en teetydverversings in. Aandete en verblyf beloop R200 en R750 onderskeidelik per persoon per dag.

Die sluitingsdatum vir registrasie is 8 Junie vir Buffelspoort en 13 Junie vir Bellville. Vir meer inligting kan die SOS en GeRAT se webtuistes besoek word by www.skoolwiskunde.co.za / www.gerat.co.za.