Onderwyser-app vir Sep

sepEen van my grootste frustrasies as onderwyser was seker die lang gewag by die afrol-masjien. Die gejaag vroegoggend of laat agtermiddag om ’n oop geleentheid te vind het op verskeie geleenthede groot gevegte veroorsaak nie net by die skool nie, maar ook die huis. Ek glo elke onderwyser weet waarvan ek praat! Om hierdie rede het ek die voordele van Edmodo in die klaskamer begin ondersoek en dit geïmplementeer. Edmodo is by verreweg my gunsteling opvoedkundige programmatuur. Dit is eenvoudig en kan die lewe van ’n onderwyser baie vergemaklik.

Edmodo is ‘n opvoedkundige webwerf wat die idee van ‘n sosiale netwerk aanneem; verfyn en geskik maak vir gebruik in die klaskamer. Edmodo laat onderwysers toe om nie net veilig met leerders te kommunikeer oor die internet of selfoon nie, maar ook met ouers en mede onderwyser. As onderwyser kan jy bv. video’s, dokumente, ou vraestelle en lesse vanaf jou rekenaar oplaai en dit beskikbaar stel vir leerders. Die lekker van hierdie program is dat elke leerder ’n wagwoord kry en dit hulle in staat stel om slegs die groepe te besigtig wat jy as onderwyser permissie voor gee. Dit is ook beskikbaar op tablette en selfone wat dit gerieflik maak vir leerders.

As onderwyser het ek byvoorbeeld my eie rekening geskep op die webwerf www.edmodo.com en begin om vir elke klas ’n groep te stig. Elke groep het ’n spesifieke wagwoord gehad en leerders moes dit op hulle selfone, tablette of huis rekenaars invoer om deel raak van die groep. In my graad 11 wiskunde-groep het ek deur die jaar bykomende inligting opgelaai vanaf my rekenaar. Selfs af en toe ’n foto vanaf my selfoon van iets oulik of as motivering. As onderwyser het ek hierdie platform nie net vir opvoedkundige geleentheid gebruik nie, maar ook om my leerders beter te leer ken deur vrae te plaas met antwoorde wat my ’n dieper insig oor my klas kon gee. Verder kan die platform ook gebruik word om met ouers te kommunikeer deur middel van epos.

Ek moedig onderwysers aan wat graag die tegnologie pad konstruktief wil stap om hierdie programmatuur te ondersoek en te implementeer indien diet vit jou pas. Indien jy enige vrae het stuur dit gerus aan ruan@helpendehand.co.za