Onderwyser-app vir Aug

driveDiegene wat die VAW se wiskunde kongresse bygewoon het die afgelope vakansie sal verstaan wat ek bedoel as ek sê, “my R1 breinprofiel laat my in die steek as dit kom by geheuestokkies.” Volgens die NBI breinprofiel is die tipiese R1 onderwyser lekker verstrooid. Uit persoonlike ondervinding kan dit nie meer waar wees nie.

As ek die aantal geheuestokkies wat ek al besit het, moet uitpak sal ek verseker van een rugby-paal na ’n ander kan loop. Tog is ek alewig op soek na ’n stokkie… Hierdie moedeloosheid het my genoodsaak om die tegnologie wêreld te ondersoek vir iets meer effektief waar ek my inligting kan stoor en dit makliker bekombaar kan wees. Google drive was vir my die antwoord. Vir die laaste jaar of so gebruik ek Google drive en het ek nou al gemaklik geraak om al my inligting daar te stoor.

Google drive is ’n aanlynstoorplek vir al jou dokumente, foto’s, video’s ens. Die prinsiep is soortgelyk aan ’n geheuestokkie (flashdrive) net sonder die fisiese stokkie. In plaas van ’n geheuestokkie in jou hand vashou is die stokkie nou in die lug op die internet. Hierdie soort stoorplek staan bekend as Cloud storage. Google drive gee vir jou 15GB spasie om te stoor. D.w.s. amper 4 keer meer as die normale 4GB stokkie wat jy kry. Hierdie is ’n baie effektiewe en veilige manier om inligting te stoor. Wat Google drive ook lekker maak is die feit dat dit op jou tablet, slimfoon en skootrekenaar geïnstalleer kan word. Sodoende sal alle inligting wat jy hier stoor op enige van jou toestelle bekombaar wees mits jy gekoppel is aan die internet.

Uit ’n onderwyser oogpunt kan jy ’n lêer skep en dit met jou studente deel per epos. Dit beteken jy kan dokumente soos vraestelle, klastoetse, memorandums, afrol werk, video’s ens. deel met leerder deur slegs deur vir hulle die skakel te stuur. ’n Leerder sal hierdie inligting dan ook op hulle slimfone, tablette of rekenaars kan bekom. Hieronder is ’n paar internet skakels na webtuiste wat vir jou leiding kan gee om jou eie Google Account te skep vir ’n jou Google drive.

Skakel 1: https://support.google.com/drive/answer/2424384?hl=en&ref_topic=14940&vid=1-635757386955178139-1393743167

Skakel 2: https://www.youtube.com/watch?v=L6KTD4u0JY4