Brief aan die Rugby-Pa

Die rugby-wêreldbeker is oral om ons. Die gees van beroepsrugby is wonderlik en aansteeklik en die drome wat die rugby-pa vir sy seun koester kan maklik met hom weghardloop. Hierdie brief aan die rugby-pa wil graag perspektief bring tot hierdie wonderlike spel.

Beste Rugby-Pa

Baie dankie dat jy jou seun toelaat om rugby te speel – en dít nogal teen die moderne neiging en teen Ma se waarskuwings en vrese in! Om seker te maak jou seun baat optimaal by sy deelname aan hierdie wonderlike spel moet ons oor ‘n paar dinge reguit gesels.

  1. Jou seun gaan heel waarskynlik NIE eendag professioneel rugby speel nie. Daarvoor is daar eenvoudig net te veel kompetisie. Dit is daarom van kardinale belang dat jou denke hieroor uitgeklaar is en jy jou gesprekke, besluite, kommentaar, opmerkings en doelwitte vir hom en komplimente oor sy spel, hierby sal aanpas. Indien jy uitsluitsel het oor hierdie feit, sal dit jou en jou seun baie baat om ‘n rustigheid by hom te skep en te demonstreer oor dinge soos afrigtersbesluite, spankeuses by sy skool, skeidsregter-beslissings, wedstryd-uitslae en sy eie spel. In hierdie rustige atmosfeer kan jou seun homself wees en vreesloos deelneem aan die wonderlike spel.
  2. Rugbyskeidsregters gaan foute maak. Dit is ‘n feit net soos die feit dat jy reeds in die verlede verkeersfoute in jou lewe gemaak het en miskien nog meer in die toekoms gaan maak. Haal dus jou fokus totaal (en ek bedoel geheel en al) van die skeidsregter af wanneer jy vanuit die pawiljoen ondersteun en wanneer jy en jou seun na die tyd oor die wedstryd gesels.
  3. Rugbyafrigters sal keuses maak waarmee jy nie gaan saamstem nie. In ‘n spansport met 15 spanlede is dit menslik onmoontlik om nooit te fouteer nie. Verkeerde spankeuses, ‘n verkeerde spelpatroon of verkeerde hanteer van dissiplinêre aangeleenthede, gaan heel moontlik gebeur. Toon ook hierin ‘n verantwoordelikheid teenoor jou seun en help hom om op ‘n volwasse manier op te tree. Die beste manier om hierdie oënskynlike “foute” te hanteer is om dit te aanvaar. Indien jy heelhartig saamstem met punt 1 hierbo sal die raad om foute te aanvaar nie vir jou en jou seun moeilik wees nie. Verder het ‘n rugby-afrigter baie veranderlikes waaraan hy aandag moet gee. Voortrekkery en die onregverdige behandeling van jou seun is absoluut nie deel van sy beplanning of verwysingsraamwerk nie. Hy rig jou seun gratis af in sy eie kosbare tyd en vir die liefde van die kinders en die spel.
  4. Vanweë die fisiese aard van rugby, gaan dit gepaard met baie emosies. Wen, verloor, seerkry, uit die span gelaat word, tydens die wedstryd deur die afrigter vervang word, ‘n swak aangee van ‘n spanmaat ontvang én driftige aanmerkings van toeskouers slegs meters van jou af, dra alles by om spelers (en toeskouers) se emosies te toets. Neem jou vóór die seisoen, en voor elke wedstryd voor om in beheer van al jou emosies te bly. Jou seun sal jou rustigheid oor die “krisis” van ‘n wedstryd wat in die doodsnikke verloor is, aanvoel en sy aller-belangrike perspektief behou. Dan sal hy alles kan put wat uit hierdie wonderlike spel te put is.

Laastens. Die moderne seun word bitter min op ‘n fisiese terrein getoets. Die Godgeskape seun wat jy liefhet, het egter die mondering om fisiese toetse te deurstaan – die mediese naam daarvoor is testosteroon. Trouens, dit is vir sy lyf goed om fisies getoets te word presies op die manier waarop rugby jou fisies toets. Dit is van kardinale belang dat jy besef dat dít een van die groot redes is dat jou seun moet rugby speel. Hy het nie nodig om sy fokus op kameraadskap, vriendskap en goeie sportmangees te verloor nie. Maak seker jy staan hom by om gedurig voorraad te neem van die redes vir sy deelname aan rugby. Hy koop immers lewenslange regte om vrylik as “kenner” sy opinie langs braaivleisvure oor rugby wedstryde te gee. Want ook hy kan nou sinne begin met: “Toe ons nog …”

Geniet die 2015-Wêreldbeker saam met jou seun.

Die afrigter.