Afrikaanse wiskunde-onderwysers se vakkennis byna foutloos

Die matriekonderwysers van nege Afrikaanse hoërskole in Pretoria het ’n gemiddeld van 97,2% vir die pas-afgelope Rekordeksamen vir wiskunde behaal. Die groep van 22 onderwysers het 98,2% vir vraestel 1 en 96,2% vir vraestel 2 behaal.

Die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (V.A.W.) het die navorsing gedoen en bevind dat hierdie groep wiskunde-onderwysers se kennis van die vak wat hulle aanbied bykans foutloos is. Die eksamen is deur die Gauteng Departement van Onderwys opgestel, deur ’n ervare paneel nasieners nagesien, en die leerlinge van hierdie nege skole het ’n gemiddeld van 60,1% behaal.

“Daar is wêreldwyd navorsing wat net positiewe nuus is vir die leerlinge wat deur só ’n groep bekwame onderwysers onderrig word.” sê dr. Danie Brink, hoof van Solidariteit Helpende Hand en mede-stigter van die V.A.W. Hoe beter onderwysers doen met eksamens van hul eie leerlinge, hoe beter doen die leerlinge. Hierdie goeie nuus oor vakkennis staaf ook die V.A.W. se ontleding van die 2015-matriekuitslae waarin Afrikaanse skole 500% beter in wiskunde as ander skole gevaar het. “Ons begin beter verstaan waarom ons Afrikaanse leerlinge so goed doen met wiskunde” aldus Brink.

Onderwysers se naskoolse wiskunde-studies het ook ’n baie groot positiewe invloed op leerling-prestasie en eers by wiskunde op derdejaarsvlak bereik hierdie korrelasie ’n ewewig. 95% van hierdie groep onderwysers het wiskunde 2 of hoër, 82% het wiskunde 3 of hoër.

Die V.A.W.-navorsing het ook ’n verskeidenheid ander positiewe bevindinge.

  • Die onderwysers is baie ervare – hulle het ’n gemiddeld van 23,7 jaar ervaring en is gemiddeld 50,8 jaar oud.
  • Te midde van hulle ervaring spandeer die onderwysers steeds meer as 7 ure per week vooraan lesvoorbereiding.
  • Die onderwysers gee nagenoeg daagliks huiswerk wat die leerlinge ongeveer 42 minute neem om te voltooi.
  • Die onderwysers vermors omtrent geen klastyd aan kwessies rondom dissipline nie – slegs 1,8%.

“Die uitslae is uitstekende nuus en bevestig dít wat ons eintlik reeds sterk vermoed het” sê  Hugo Vermeulen, hoof van die Solidariteit Helpende Hand Skoleondersteuningsentrum. Vermeulen sê dat ouers van leerlinge wat by Afrikaanse hoërskole wiskunde neem nou meer as ooit baie gerus kan wees oor die vakkennis van hulle kind se onderwyser en oor dit wat in die wiskundeklas gedoen word.

Simboolverspreiding vir Vraestel 1:

Simboolverspreiding vir Vraestel 2:

Gemiddelde persentasies wat onderwysers en leerlinge elk behaal het in die onderskeie vrae: